Monday 30 July 2012

DIESEL VUUR KANKER AAN

Deur Prof. Johan du Plessis

Die Internasionale Agentskap vir Navorsing oor Kanker (IARC) het pas bevestig dat die inaseming van dieseluitlaat, ‘n direkte oorsaak van longkanker is.

Volgens prof Johan du Plessis, ‘n kenner op beroepshigiëne aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is daar reeds vroeër bevind dat dieseluitlaat wat deur middel van die verbrandingsproses vanuit ‘n diesel-enjin vrygestel word, skadelik vir die menslike liggaam is. “Onlangse epidemiologiese studies het genoegsame bewyse gelewer sodat dieseluitlaat nou as ‘n menslike karsinogeen (kankerwekkende stof) geklassifiseer is.”


Du Plessis meen persone wat in spesifieke beroepsrigtings staan soos dieselwerktuigkundiges, mynwerkers, ens. loop ‘n hoë gesondheidsrisiko juis as gevolg van verhoogde blootstelling aan dieseluitlaat.

“Dieseluitlaat word deur die neus ingeasem en kan tot in die longe beweeg. Die dieselpartikels word neergelê op die wande wat die lugweg uitvoer en word uiteindelik deur selle geabsorbeer. Binne in dié selle ontlok dit toksiese effekte en veroorsaak verskeie vorme van skade aan die sel se genetiese materiaal, wat dan oor die langtermyn kanker kan veroorsaak.”

Du Plessis sê werkgewers het ‘n wetlike verpligting om die gesondheid van hul werknemers te beskerm. “As werkers blootgestel word aan dieseluitlaat, het die werkgewer ‘n plig om die blootstelling te beheer, sodat dit nie die gesondheid van die werknemer benadeel nie.”

Hy meen die probleem in Suid-Afrika, en selfs by baie ander ontwikkelde lande, is dat daar tans geen beroepsblootstellingsdrempels vir dieseluitlaat bestaan nie.  Drempels is vlakke wat wetlik daargestel word om die gesondheid van die werker te beskerm. “Indien ‘n werker aan vlakke laer as die drempel blootgestel word behoort dit nie die werker se gesondheid te benadeel nie.  Dit is egter debatteerbaar of daar werklik veilige vlakke van blootstelling is vir karsinogene.”

http://www.potchefstroomherald.co.za/29347/news-details/diesel-vuur-kanker-aan