Saturday 28 April 2012

Eet vleis, word maer - Prof Tim Noakes

27 April 2012 Deur JAN BEZUIDENHOUT
Heerlike steak. Foto: LBW








Heerlike steak. Foto: LBW 

‘n Revolusie in die mens se dieet gaan binne 10 jaar posvat en dit sal in veeboere se guns wees. “Boere, gaan voort om jul wonderlike produk, vleis, te produseer,” sê prof. Tim Noakes.

Noakes, van die Instituut van Sportwetenskap in Kaapstad, het in Maart ‘n opskudding veroorsaak toe hy in die TV-program Carte Blanche vertel het van die ommeswaai in sy lewe en sy gesondheid nadat hy sy lewenstyl van ‘n koolhidraat-gebaseerde dieet na een van proteïen verander het.

Wat deel van die opskudding veroorsaak het, is Noakes se stelling dat dit eintlik goed is om vleis én vet te eet.

Natuurlik sou Noakes se stelling menige vleisprodusent opgewonde gemaak het en op Queenstown het dr. Pieter Prinsloo, voorsitter van die RPO in die Oos-Kaap, ‘n plan beraam. Hy wou Noakes graag ontmoet om dankie te sê vir dié lansie wat die professor vir vleisboere gebreek het.

Prinsloo se ‘Plan’
Noakes was te vinde vir die afspraak. Prinsloo en twee kommersiële boere van Queenstown, mnre. Knowledge Xhashimba en Gcina Madasa sou Noakes besoek. ‘n Befaamde biltongmaker van Kaapstad, Sakkie Larney, is saamgenooi om aan Noakes ‘n paar bielie-biltonge te oorhandig as blyk van waardering. Larney hanteer Landbou.com se gespreksforum en het via die sosiale media met Prinsloo bevriend geraak.

Die besoekers het Noakes by ‘n koffiekroeg ontmoet en Noakes het aan die groepie gesê dat vleisboere die afgelope 50 jare “beduiwel” is oor die propaganda dat vleis ongesond sou wees, soos wyd en syd verkondig is. “Ek wil aan julle sê dat die teenoorgestelde eintlik die waarheid is.

“Ons begin besef dat die mens ontwikkel het om baie vet en baie proteïene te eet. Hoe meer proteïene die mens eet, hoe gesonder is hy.” Hy sê dit is so helder soos daglig dat mense wat meer proteïene en meer vet eet, gesonder is as diegene wat graankosse eet.


Foto-byskrif: Van links staan mnr. Gcina Madasa, prof. Tim Noakes, dr. Pieter Prinsloo, mnr. Sakkie Larney en mnr. Knowledge Xhashimba.

Noakes sê die Indiane op die Amerikaanse prairies is die gesondste mense nóg. Hul dieet het hoofsaaklik uit bisonvleis bestaan. Namate Europeërs die land oorgeneem het, is die Indiane in reservate in geboender. Kyk hoe lyk hulle vandag omdat hulle nou ander diëte het!

Hy het ook verwys na die Noorweërs, wat van die gesondste mense in Europa is omdat hulle lank al op hierdie dieet ingekoop het. Hy se die brein het ook die meeste vet nodig vir ontwikkeling en 'n kind wat in sy vormingsjare ontneem word van volvet-produkte, kan nie sy volle breinkapasiteit ontwikkel nie.

Boodskap aan vleisboere
Noakes het ‘n spesiale boodskap aan veeboere gehad: “Ek is baie positief oor die vleisbedryf en ek hoop jul boere laat die wêreld besef dat dit goed vir ‘n mens is om vleis te eet.”

Noakes voorspel dat ‘n revolusie binne ‘n dekade gaan plaasvind soos mense begin besef dat die advies om vet en proteïene in hul diete te vermy, verkeerd is.

“Vleisboere, julle is aan die regte kant van die besigheid, want binne 10 jaar gaan sake radikaal in jul guns verander. Gaan dus voort om jul wonderlike produk, vleis, te produseer.”

Noakes sê hy sien uit na die dag waarop die wêreld verskoning sal moet aanbied vir die verkeerde opvatting oor vleis wat so wyd gepropageer is.

* Noakes sê sy dieet bestaan uit 60-70% vet. En hy voeg by: “Hoe meer vet jy eet, hoe maerder word jy! ‘n Mens se brein bestaan in elk geval uit 50% vet.”

Lees meer oor prof. Noakes se dieet.

Landbou.com - Sien ook die video onderhoud met Prof. Noakes HIER